Protes

Met soveel roue pyn, groet ek hiermee, my liefste kerk.

(Nog 'n brief wat die Redakteur van die Hervormer nie wou plaas nie)

Ons kerk gaan die afgelope ruk deur 'n verskriklike pynvolle proses. Dalk kan ons daarvan se dat dit die grootste stryd in ons kerkie se bestaan is. In die paniek wat daarmee saam gekom het, is beskuldigings mildelik heen en weer gegooi.

Ek, soos sekerlik ook vele ander
, is deur die diepste seer en worsteling. My kerk was, en ja, is nog altyd deel van my hele wese.

Hierdie agting en liefde vir my kerk het oor meer gegaan as die feit dat my voorgeslag 'n beduidende rol gespeel het in ons kerk se geskiedenis.
My liefde en agting vir my kerk het vir my gespruit oor haar waardigheid as kerk van Jesus Christus, en omdat my kerk in haar teologie vir geen kerk in die wêreld hoef terug te gestaan het nie. My kerk en haar mense het met hulle nederige strewe na wysheid en om die regte pad te loop, respek en waardering by my afgedwing.
Kortom, ek het my kerk gesien as 'n gemeenskap van Godvresende gelowiges, en dit was 'n voorreg om in die gemeenskap te kon deel.

Dit is juis bogenoemde agting, respek en liefde, wat my worsteling so intens gemaak het. Hoe sou ek ooit my kerk kon los?!
Die stryd, maar veral die nuwe koers wat my kerk ingeslaan het, het my voor die ondenkbare werklikheid van skeiding met my kerk gebring.
Om hierdie skeiding onder woorde te probeer bring, sou nooit uitdrukking kon gee aan die verlorenheid wat dit oor my gebring het nie! Ek het myself gedurig, tussen die tipiese fases by die afsterwe van iemand na aan jou, bevind.

Terwyl ek nog so in verlorendheid gewonder het oor wat my te doen staan, is ek skielik met 'n skok uit my ontkenningsfase geruk. Ek het nog gewonder oor my skeiding toe ek besef my kerk, soos ek nog altyd na haar gekyk het, is totaal iemand anders.
Hierdie liewe kerk van my, het my eintlik alreeds gelos! Ek is gedwing om te aanskou dat my kerk heeltemal 'verword' het en dat dit glad nie meer my kerk is nie!
Skielik, en met ontnugterde eensaamheid, het ek besef dat hierdie skeiding eintlik 'n afsterwe is.

Tipies in die aard van so 'n pynlike situasie, het die grense tussen my emosies en rede, heeltemal vervaag.

Dit is met diepe en werklike opregtheid dat ek aan Prof van Aarde die volgende wil sê: (Daar is sekerlik ander soos en saam met Prof v Aarde, wat ek hierby kon insluit, tog lê my affiniteit nie by hulle nie).
Professor, ek het nog altyd die grootste respek en agting vir u gehad, vir u verstandelike vermoëns, u kennis, en u deursettingsvermoë. Ek kan dit selfs sterker verwoord en hier voor almal verklaar dat ek jou as medegelowige lief het. Jy is rêrig vir my 'n beste professor!
En dit is juis daarom dat dit my hart breek, my so hartseer laat omdat u, u geloof verloor het.
Maar nog hartseerder as dit, is dat u nie bereid is om met uself en met ander gelowiges hieroor eerlik te wees nie. Ek het ook al ander geliefdes in die geloof, so verloor. Hulle was ten minste eerlik met hulself en teenoor ons ander daaroor.
En tog as ek met simpatieke liefdevolheid, die saak oordink, dan kan ek u optrede verstaan. Het ek op ‘n manier begrip dat u die eerlikheid nie kan bekostig nie, want dit sou u by 'n doodloopstraat in u roemryke loopbaan bring. Waarna het u dan om heen te gaan?
Prof, ek bid uit my hart uit dat u weer die genade van geloof mag beleef. Want weet u - dit is regtig, ons enigste troos!

Ek het reeds gesê dat ek nie noodwendig dieselfde affiniteite het vir almal in die saak betrokke nie. Daarom is my opmerkings teenoor die Algemene Kommissie maar net opregte eerlikheid. En sien dit maar as my ''aggressiewe fase'' in hierdie rouproses waardeur ek werk.
Tot voor die huidige stryd in die Kerk kon ek met gemaklikheid en met respek opkyk na die leiers in ons kerk. Ek kan dit ongelukkig nie meer sê nie. Die Algemene Kommissie se hantering van die grootste krisis in ons kerk, stel ernstig teleur.
Hul optredes en besluite getuig van voortvarendheid (dalk jeugdelike voortvarendheid); van impulsiewe en ondeurdagte optredes; van paniekerige rondspring en skree en beskuldigings en daarmee saam van algehele partydigheid. Die lede van die Kommissie praat nie uit dieselfde mond nie, en elkeen wat sy eie stem uitbasuin, doen dit as namens die Kommissie. Daar is foute gemaak, maar in plaas daarvan om in alle eerlikheid die foute oop te lê en reg te stel, word diegene wat dit durf waag om die Kommissie daarop te wys, met teregstelling gedreig. Intussen word dieselfde foute so stil-stil in besluite en opdragte ingewerk om dit reg te knoei.

Net so het die Kommissie, te midde van die hele warboel van gebeure, eintlik maar net luidkeels hul onvermoë om verkeerde sake reg te stel, uitbasuin deur alle media tot hulle beskikking. Hulle het dieselfde media gebruik om die te verguis wat van hulle sou verskil! Wat kan mens meer se oor 'n kraf wyn waarvan alles reeds verspil is?

'n Ander emosie van verwyt of onvergenoegdheid wat by my spook, is teenoor ons ouer geslag dominiees. Waar is julle? Julle is die wyses wat al voorheen 'n Prof Geyser onthef het. Nou te midde van die direkte aanslae teen die Heilige Skrif, ons geloof, ons belydenis, is julle net doodstil - of skerm net vir vrede - 'n valse vrede!
Ek probeer insien dat u dalk reken dat u moeg is, en dat u wens om alles met aftrede te ontglip. Is dit regtig 'n verskoning in so 'n belangrike saak, Verbi Divini Minister?

Hiermee saam reken klaarblylik baie van my kollegas dat deur stilswye die saak gou verby sal gaan. Dit sal nie. Dit gaan net vererger! My kerk het 'n totaal nuwe teologiese beskouing aangeneem en in daardie rigting begin beweeg!
Oor waar kollegas staan in die saak, het ek een van twee waarnemings: of my kollegas het eenvoudig nie die teologiese onderbou om te weet watter standpunt om in te neem nie, of dit pas nie in by hul eie persoonlike gemaksones, strewes of dalk mikpunte in die Kerk nie.

Die laaste saak in my beskouing om my kerk se afsterwe te verwerk, gaan oor die sogenaamde politiese dryfvere in die saak. In hierdie oorloggie /stryd wat in die kerk woed, is die enigste en gerieflikste sweep wat gebruik word om diesulkes soos ek, mee by te kom, die sweep van "regse politiek". Elke argument word ingekleur met verwyte van "regse politiek" en elke fout word verskuil agter beskuldigings van "regse politiek". Ek stel dit aan u: Hoe mis het u dit tog net nie!

As daar predikante in die kerk is wat in 'n sogenaamde polities-bevryde omgewing werk, dan is ek een van hulle. Aanpassings en aanvaardings is al lankal terug deur my gemaak. Lank voor u nog miskien daaroor begin dink het - en meer as wat menige van u dalk ooit bereid voor sou wees. Dit is juis ten opsigte van hierdie aanpassings waar ek gesien het wat die uiteinde is van die, let wel, teologiese (en nie politieke) rigting wat die kerk nou ingeslaan het.
Verduidelikings hieroor is te groot en te veel. Ek kan maar net sê dat as ons aan die belydenis torring, dan bly daar eenvoudig niks anders meer oor as net 'n humanistiese mensliewendheid nie. Boonop, uiters selektief, en slegs eenrigting gedrewe.

Wanneer Jesus Christus, maar net liewe Jesus van Galilea geword het, lui die doodsklok vir die Kerk - my Kerk...

Met soveel roue pyn, groet ek hiermee, my liefste kerk.

Ds Elmien Oosthuizen