Analise van herderlike skrywe in reaksie op die Staat van Belydenis

Dit is tog jammer dat hierdie skrywe ‘n herderlike skrywe genoem word.  ‘n Herder versorg,  pas op,  maak bymekaar.  Hierdie skrywe loop soos ‘n brullende leeu en verskeur mense en standpunte.  Dit versamel nie, maar speel regter,  verklaar deel van die kudde tot bokke en jaag hulle dan weg.

Die Hervormde Kerk as kerk van Christus beleef tans troebel tye. Vir baie gemeentes, ampsdraers en lidmate het kerkwees ’n stryd om oorlewing geword. Boonop is daar verdeeldheid in ons Kerk wat op sommige plekke breekpunt bereik. Tog kan hierdie tye goed wees vir die kerk van Jesus Christus. Swaar tye haal soms die beste uit gelowiges, en loutering kan tot gevolg hê dat ons sterker in die geloof aan die ander kant uitkom. Daarom, Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan (1 Pet 1: 6-7).

Inderdaad vind ons wat protesteer ons troos in bg. aangehaalde Bybelteks.

1. INLEIDEND

Gedurende November 2011 het ’n groep lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) – buite die Kerk se vergaderings van die ampte om – ’n organisasie geskep wat hulle die steedsHervormers Belydenisgroep noem. Hierdie groep teken protes aan teen bepaalde besluite van die 69ste Algemene Kerkvergadering (AKV) (2010) en die Buitengewone Algemene Kerkvergadering (BAKV) (2011).

Daar is niks onkerkordeliks in hierdie optrede nie.  Dit skep egter die indruk dat die saak daar ‘n aanvang geneem het.  Hierdie stryd het lank reeds in die kerk geduur en in November 2011 het daar net ‘n volgende fase van die stryd vorm aangeneem.

Na meer as 19 maande van gesprekvoering, onderhandeling, dissiplinêre optrede en gepaardgaande spanning en kerklike verdeeldheid en skeuring, het ’n groep wat hulleself steedsHervormers noem, op 2 Junie 2012 te Meyerspark (Pretoria) vergader en ’n Staat van Belydenis (Latyn: Status Confessionis) teen die NHKA uitgereik.

Reeds hierdie woorde dui aan dat die saak ‘n lang aanloop het.  Die probleme is egter ouer as 19 maande en die eerste sterk formele protes is reeds Oktober 1995 met die uitreik van die Eietydse Getuienis aangeteken.

Die eenheid van die kerk lê in sy belydenis, Ordereël 1.2.1.

Wie verdeel en verskeur? Die wat bg reël oortree, of die wat teen sodanige oortreding protesteer?

 

Die Kommissie reageer soos volg op die Staat van Belydenis:

2. WAT IS ’N STAAT VAN BELYDENIS (STATUS CONFESSIONIS)?

Volgens die definisie wat die World Alliance of Reformed Churches (WARC) tydens die Seoel Konsultasie daarvan gegee het, is dit die volgende:

Any declaration of a status confessionis stems from the conviction that the integrity of the gospel is in danger... It demands of the church a clear, unequivocal decision for the truth of the gospel, and identifies the opposite opinion, teaching or practice as heretical.

’n Staat van Belydenis handel oor één duidelik omskrewe geloofsaak wat met die hart van die evangelie te make het. ’n Staat van Belydenis doen dit op so ’n manier dat dit die valse leer ontbloot en die ware leer duidelik aan die lig kom. Dit verwoord nie blote teologiese opinies nie, maar verwoord ’n belydenis aangaande die waarheid van die evangelie wat deur die één heilige algemene Christelike kerk nagesê kan word. So verteenwoordig ’n Staat van Belydenis dus nie bloot die standpunt van ’n bepaalde groep nie, maar het dit inherent ’n ekumeniese karakter.

Dit is opvallend dat die Kerk nou gryp na die definisie voorsien deur die WARC as sou dit die gesaghebbende een wees.  Reeds by hierdie eerste opmerking kan ons sien dat die Kommissie selektief te werk gaan met die inligting.  Hierdie seleksie van sake word gebruik om die saak na hulle sin te plooi.  In die agenda vir die BAKV vind ons die volgende:

 

Opmerkings oor 'n Status Confessionis

'n Status Confessionis is 'n staat van belydenis. Dit beteken 'n groep gelowiges verklaar 'n staat van belydenis wanneer hulle tot die oortuiging gekom het dat die belydenis van geloof in Jesus Christus op die spel is. 'n Status Confessionis veronderstel dat dit in die saak waaroor dit gaan onmoontlik is om te verskil sonder om die integriteit van die evangelie in gedrang te bring. Dit kan niks anders wees dat dit gaan oor 'n leer, 'n belydeniskwessie nie.

Dr DJ Smit het die volgende definisie van 'n Status Confessionis gegee: 

Streng gesproke beteken die uitdrukking Status Confessionis dat 'n Christen, 'n groep Chris­tene, 'n kerk of groep kerke oordeel dat 'n situasie ontstaan het, 'n oomblik van waarheid aangebreek het, waarin niks minder nie as die evangelie, self, hulle meer basiese belydenis aangaande die Christelike evangelie, op die spel staan, sodat hulle verplig voel om daar­teenoor te getuig en te handel.

Prof BJ Engelbrecht vertaal Heinrich Ott se definisie van 'n Status Confessionis soos volg: 

Die begrip Status Confessionis beteken 'n situasie waarin 'n Christen of 'n groep Christene of 'n kerklike instansie hom gedwonge sien om 'n bepaalde leer of tendens in die Christelike denke met alle beslistheid as dwaalleer te verwerp, omdat die boodskap van Jesus Christus andersins nie meer sinvol verder geïnterpreteer kan word nie, maar totaal ontsetel en vervals sou word. Die Status Confessionis tree dus altyd dan in wanneer die identiteit van die Evangelie op die spel is (soos die WARC met die Hervormde Kerk gedoen het vanaf 1982 en die daaropvolgende gesprekke totdat ons presies bely soos hulle eis) - BJE.

 

Die Staat van Belydenis wat op 4 Junie 2012 teen die Hervormde Kerk uitgereik is, voldoen nie aan hierdie vereistes nie. Dit is nie ’n geloofsverklaring wat die verkeerde geloof van die Kerk teenoor die regte geloof van die steedsHervormers stel nie. Dit bestaan uit ’n reeks uit-eenlopende aantygings oor verskillende aangeleenthede waarmee gepoog word om die groep se teologiese stellings uiteen te sit. Die geskrif word gekenmerk deur ’n gebrek aan samehang tussen elke individuele aanklag en die begronding daarvoor. Die geskrif maak wilde bewerings (soos dat die Kerk sou sê dat ’n mens geen Verlosser nodig het nie) wat op geen manier uit amptelike stukke of besluite van die Kerk of uit die Kerkboek van die NHKA bewys sou kon word nie. Die geskrif verwoord hoogs debatteerbare teologiese opinies wat op geen manier deur die wyer kerk van Christus gedeel word nie.

Wanneer ‘n kerk besluite neem wat teenstrydig is met dit wat in sy amptelike stukke of Kerkboek staan, hoe moet dit verstaan word?  Al hierdie bewerings word gemaak vanuit ‘n sekere vooroordeel en ‘n definisie wat by daardie vooroordeel pas.  Indien ons byvoorbeeld prof Engelbrecht se definisie sou neem,  sien ons dat ‘n leer of tendens,  deur ‘n enkeling of ‘n groep,  so ernstig gesien kan word dat daar tot hierdie stap oorgegaan kan word.  In daardie opsig sou die huidige staat van belydenis ‘n geldige dokument wees.  Daarmee saam moet ons onthou dat die stap eers ‘n causa confessionis genoem is.  Deur telkens te wys op ‘n saak (causa),  sluit die staat van belydenis hierby aan.  Daarmee saam is die wekroep ernstig van aard om sewe sake aan te dui.  Die “een saak” is nie vereiste nie.  Sake het so verloop dat sewe sake van groot erns beskou moet word.  Dit was reeds voor die BAKV ook duidelik dat die sake in 54/69 asook in die Kerk,  op hierdie stap kon uitloop.  Aan die woord,  prof BJ Engelbrecht in sy advies aan die KommAKV. Eie onderstreping en vetdruk aangebring

 

(a) Die doel van die besluit (54) is duidelik om te voldoen aan eis (iii) van die WARC gebaseer op die Ottawa-besluit van 1982 (wat as een van die prestasiepunte van die WARC beskou word - bl 750, Agenda, 69ste AKV) om daardeur lidmaatskap van die WARC (huidig die WRCC) te kry.

(b) Die inhoud van die besluit is sonder twyfel teologies van aard gesien vanuit die Reformatoriese standpunt en vanuit die standpunt van die WARC. Trouens: Die WARC sien vanuit hulle teologie die saak so ernstig teologies dat as dit nie woordeliks deur die AKV bely word as skulderkenning en skuldbelydenis nie, daar 'n status confessionis ontstaan wat die NHKA nie as lid van 'n interkerklike Iiggaam aanvaar nie. Vanuit ons Kerk se teologiese standpunt, is enigiets wat in stryd is met die Evangelie van Jesus Christus van teologiese be­lang. Ook verg die interpretasie van "die beeld van God in die mens” uitvoerig teologiese diskussie binne wyere verband van die Bybelse (en dogmatiese) an­tropologie wat saamhang met ander leerstukke van die Kerk.

(c) Die 69ste AKV, Besluit 54 beklemtoon self dat die besluit "Bybels teologies van aard is", blykbaar teen 'n verwagte aantyging en verwyt "dat die Kerk politiek be­dryf'.

(d) Besluit 54 het self ‘n ingeboude "verskansing", naamlik dat dit handel oor die

goedpraat van die politieke beleid van apartheid deur die Kerk. Maar die motivering daarvan is deur en deur teologies van aard.

(e) Die betrokke besluit van die 69ste AKV is met 'n meerderheid van stemme geneem. Gedurende die vergadering was daar egter 'n aansienlike aantal af­gevaardigdes wat hulle teenstem (beswaar) aangeteken het. Die AKV kon verwag dat dieselfde "beswaardheid" in die gemeentes van die Kerk na vore sou tree. Die Beswaarskrif is daarom die kerkwetlike beswaar teen die Besluit 54 en (dit is tog belangrik) teen die "Bybels-teologiese" motivering daarvan. Ten spyte van kerkwetlike prosedures van ons Kerk, bly dit sekerlik van groot belang vir die kerk (en Kerk) om gedurig in dialoog (gesprek) te tree in verband met teologiese sake todat ‘n status confessionis ontstaan met ge­paardgaande gevolge. Ons mag sekerlik geen kerklike vergadering as ‘n valbyl vir dialoog binne en buite kerkverband beskou nie. Die algemene regsreël van universele gereg­tigheid "audi et alteram partem" geld ook vir die Kerk en spesifiek, myns insiens, ook in verband met bostaande.

 

Om die waarheid te sê, die geskrif getuig in vele opsigte van skokkende teologiese onkunde. So word hierdie geskrif ’n strydgeskrif wat nie tot gelowige lidmate van die Kerk spreek nie. Dit is bloot ’n belediging vir elke gelowige lidmaat van die Kerk en vir elke ampsdraer wat sy/haar werk in die Kerk uit dankbaarheid teenoor die Here doen.

Die dwarsklap van “skokkende teologiese onkunde” is bedoel om verdag te maak en te kwets.  Om dan die dwarsklap as waarheid te bestempel,  versterk die indruk dat die bedoeling van hierdie herderlike skrywe (sic) bloot daargestel is sodat  iemand net verneder en geëlimineer moet word.

 

3. DIE STAAT VAN BELYDENIS EN DIE EIE HERVORMDE TEOLOGIESE AARD

 

Verder moet uitgewys word dat die uitreik van ’n Staat van Belydenis vreemd is aan die teologie en tradisie van die Hervormde Kerk. Die begrip Staat van Belydenis is oorspronklik afkomstig uit die 16de-eeuse Lutherse teologie. Dit is in die eerste helfte van die 20ste eeu binne die konteks van die Duitse kerk se uitsluiting van Joodse Christene gebruik, en dit is verder in die tweede helfte van die 20ste eeu binne die konteks van die ekumeniese beweging (die Lutheran World Federation en WARC) gebruik.

Daar is baie sake wat vreemd is in die Hervormde kerk op hierdie stadium  waaronder 54/69 wat slegs vanuit ‘n Lutherse perspektief sin maak.  Somtyds is dit nodig om iets vreemds te doen,  omdat alles wat bekend is,  probeer is en telkens verwerp is.  Dit is dan natuurlik ook ‘n vraag; waarom  is die Kerk nie bereid is om bogenoemde standpunt  (nog steeds) te handhaaf teen die ou WARC se sogenaamde status confessionis nie. Waar het die dosente dit gerade geag om tog maar aan die ou WARC toe te gee op dié punt – maar nie aan (veronderstelde) eie broers en susters nie?

 

In konteks gesien, is dit duidelik dat die steedsHervormers dieselfde terminologie gebruik as die World Alliance of Reformed Churches (WARC) wat in 1982 tydens die Ottawa- vergadering ’n Status Confessionis teen die NHKA uitgereik het – tóé omdat die NHKA die beleid en praktiese implementering van apartheid teologies begrond het. Hierdie Status Confessionis is nog nie herroep nie.

Die terminologie is terug gevoer na die 16e eeuse oorsprong by causa confessionis en juis daarom is elke tema met “saak” aangedui.

 

Dit beteken dat die NHKA tans in die unieke historiese posisie verkeer dat daar twee verklarings, lynreg in opposisie teenoor mekaar, teen die NHKA uitgereik is. Die NHKA staan aangekla van teologiese dwaling, nie net deur al die Hervormde kerke wêreldwyd nie, maar ook deur ’n groep van die Kerk se lidmate. Ironies genoeg handel albei oor dieselfde saak: apartheid – wat tot ’n belydenisaangeleentheid verhef is.

Die Hervormde Kerk het in 1982 nie die Status Confessionis erken nie. Die Kerk het geoordeel dat die WARC verkeerd handel deur van apartheid (’n etiese saak) ’n belydenissaak te maak. Die Kommissie oordeel nou dat die steedsHervormers in presies dieselfde slaggat trap: Ondanks hulle ontkenning, is die Kommissie daarvan oortuig dat die Kerk se besluite oor apartheid by die 69ste AKV en by die BAKV een van die sterkste onderliggende dryfvere vir die steedsHervormers se Status Confessionis is.

Die Kommissie weet van beter.  Hulle was by al die vergaderings,  hulle het in diepte met almal gepraat,  hulle ken elkeen se hart beter as wat enige ander mens kan,  en hulle weet wat die eintlike saak is wat hierdie staat van belydenis onderlê.  Sodanige beterweterigheid is ‘n klad op die naam van die Kerk.  Dit wys egter die bril van vooroordeel waarmee gelees word.  Die Kommissie is self met politiek besig.  Vreemd,  toe die dosente in 2009 die status confessionis (WARC s’n) in die media opgeneem het,  was niks fout nie en geen slaggat sigbaar nie,  ook nie toe die AKV 54/69 aanvaar het nie,  nou skielik is dit politiek.  Ons verwerp hierdie herhaalde politieke  strooipop argument met die minagting wat dit verdien.

 

Verder maak die Hervormde Kerk se Kerkorde geen ruimte vir iets soos ’n Staat van Belydenis nie. Dit het waarskynlik onder andere te make met ons siening van belydenis. In ons Hervormde tradisie sien ons die belydenis nie as afgehandel en derhalwe gestol nie. Belydenis is ’n eksistensiële, dinamiese, voortgaande proses. Die geloof wat in die hart is, moet voortdurend met die mond bely word. Dit stel die moontlikheid en verantwoordelikheid van eietydse interpretasie van die belydenis en selfs die uitdaging van ’n nuwe, eietydse verwoording van ons geloof in die vorm van ’n nuwe belydenis daar. Daarteenoor sien die ortodoks Gereformeerde tradisie die belydenis as gestol en afgehandel, en word daar gemeen dat die belydenis nie verder geïnterpreteer of uitgelê kan word nie. Met so ’n verstaan is daar ’n wesenlike probleem, naamlik dat die belydenis so belangrik beskou word dat dit aan die Skrif gelykgestel word of selfs in gesag bokant die Skrif gestel word. Die Skrif behoort geïnterpreteer te word, maar die belydenis mag nie geïnterpreteer word nie. Dit is ’n Roomse dwaling wat nie net totaal vreemd is aan ons Hervormde tradisie en teologie nie, maar wat die Reformatoriese beskouing oor Skrif en Belydenis wesenlik verloën.

Hierdie argument is uiters eensydig. ‘n Belydenis is die antwoord van die kerk op die openbaring van God in Christus. Die kerk is nie net ‘n eenheid in ruimte nie, maar ook ‘n eenheid in tyd. Daarom kan die kerk se belydenis nie nét eksistensieel en dinamies wees nie. Huidig is die Kerk se siening van die bestaande belydenis vervat in Ordereël 1 van die Kerkorde. Lees asseblief weer Ordereël 1 noukeurig, asook Ordinansie 5.1.5.(iii). Dit is opmerklik dat die Kerkorde aan die belydenis ‘n uiters ortodokse gesag verleen. Boonop stel die Kerkorde dat die lidmate van die Kerk in die belydenis  onderrig moet word.

Tweedens. Hoe gaan die gesprek by die tussenkerklike komitee vorder indien die Gereformeerdes moet lees dat hulle standpunt Rooms is.  Meer nog,  waarom praat met mense wat volgens jou oortuiging Rooms is ten opsigte van so ‘n belangrike saak soos die belydenisskrifte?

 

Dit is daarom baie vreemd dat ’n groep wat hulleself die naam steedsHervormers toe-eien, hier juis handel en redeneer op ’n manier vreemd aan die geskiedenis, tradisie en karakter van die Hervormde Kerk. Net so vreemd aan die Hervormde Kerk as die doleansie (ook ’n Gereformeerde begrip) waarmee dieselfde groep vroeër gedreig het. Dit wil dus voorkom asof die groep se eie teologiese karakter wesenlik vreemd is aan die Hervormde teologie en tradisie.

Ons het al vroeër dit gestel dat die begrip doleansie nie net ‘n Gereformeerde begrip van die 19de eeu is nie, maar eerder ‘n gereformeerde begrip van twee eeue vroeër.

 ‘n Werksdokument rondom die saak is gesirkuleer,  sommige gemeentes het die moontlikheid ondersoek,  sekeres het dit besluit,  voordat die saak volledig bespreek is.  Die KommAKV het gevra vir die dokumente rondom die saak,  ons het geweier aangesien dit nog slegs werksdokumente was,  en ten spyte van ons weiering is die onafgehandelde dokumente in die BAKV se agenda geplaas.  Nou word ‘n moontlikheid en werksdokument ‘n werklikheid wat die groep afskiet. Ons is ook bewus van gemeentes wat skrywes aan die Kommissie gestuur het en verduidelik het wat hulle onder doleansie verstaan, naamlik om te treur. Gemeentes wat terwyl hulle getreur het, nog steeds hulle volle heffing maandeliks betaal het. Gaan asseblief u korrespondensie na.

 

4. KERKORDELIKE DEBAT OF ’N STAAT VAN BELYDENIS?

 

Die Kerkorde van die NHKA bied voldoende maniere om teologiese debat te voer en aan te hou voer. Indien iemand van mening is dat kerklike vergaderings dwaal, bied die Kerkorde ’n duidelik omlynde proses wat gevolg word, en wat uiteindelik kan uitmond in ’n beswaarskrif wat aan ’n Algemene Kerkvergadering voorgelê word. Die beswaardes het hierdie proses reeds gevolg, en die Hervormde Kerk het selfs teen hoë koste ’n Buitengewone Algemene Kerkvergadering (BAKV) gereël om oor hulle beswaarskrif te oordeel. Die BAKV het vooraf memoranda aangevra wat in die agenda ingebind is en maande vooraf aan alle afgevaardigdes beskikbaar gestel is om te bestudeer. Op die BAKV van Oktober 2011 wat twee volle dae geduur het en ruim geleentheid vir bespreking oor slegs een saak gebied het, is elke aspek van die beswaarskrif met groot meerderhede verwerp. Die Kerk het dus wel deeglik die argumente van die beswaardes gehoor, dit geweeg en te lig bevind.

Reeds voor die BAKV is dit duidelik aan die Kommissie gestel dat ons nie saamstem met die saamroep van die BAKV nie.  Die herhaalde verwysings na die koste moet voor die deur van die Kommissie gelê word; aangesien hulle dit aangegaan het, ten spyte van ons besware.  Die grootste probleem het met die afgevaardigdes te make soos vooraf duidelik uitgewys.  Jy kan nie regter speel in jou eie saak nie.  Die stemmery het dit bewys.  Om nou met groot fanfare te stel dat die besware te lig bevind is,  is wensdenkery en oëverblindery.  Dieselfde mense sou kwalik teen hulself stem,  veral nie aangesien daar vanuit die voorsitterstoel sekere opmerkings gemaak is nie. Dit bly natuurlik ook ‘n tergende vraag oor waarom die BAKV ‘n ander bewoorde besluit geneem het as die argumente van die beswaardes so lig bevind was.  En hiermee het u uself in ‘n sirkel-redenasie ingelaat. As Besluit 54 so teologies onskuldig en teologies korrek was, waarom het u u en die AKV daartoe laat dryf om ‘n ander besluit te laat neem?

 

Natuurlik staan dit lidmate en ampsdraers van die Kerk steeds vry om dieselfde sake weer by wyse van skrywes aan vergaderings en rade van die Kerk voor te lê, en die sake kan weer en weer op Algemene Kerkvergaderings gedebatteer word. Op grond van die Skrif is dit eie aan ons Hervormde tradisie om met mekaar te praat. Indien praat nie dadelik werk nie, praat ons verder. So glo ons rig en lei Christus sy kerk deur die werking van die Heilige Gees om die regte besluite te neem, selfs al neem dit soms jare, dekades, of selfs eeue voordat die kerk die stem van Christus hoor. Die belangrike is: Ons vertrou Hom as Hoof van die kerk en Heer van die wêreld om sy kerk op koers en in stand te hou.

 

Indien u met hierdie stelling ernstig is, plaas dan onmiddellik, soos aanvanklik versoek, onvoorwaardelik ‘n moratorium op Besluit 54 en die dáárop volgende Besluit van die BAKV. Die Kerk is besig om te skeur. Laat die nageslag oor hierdie aangeleentheid verdere besluite neem.

Hoe kan ‘n mens dieselfde besware weer gaan opper by die oor wat toe nie gehoor het nie en nou glad nie wil hoor nie.  Die rade wat oor hierdie sake sou praat,  is ontbind,  sal seker eers weer in 2013 saamgestel word en  die besware dan eers teen 2016 by die AKV hanteer word.

 

Intussen is alle lidmate en ampsdraers egter aan die besluite van die Algemene Kerkvergadering en aan die Kerkorde gebind. Enige verdere protesaksies is dus steeds onkerkordelik en stel die betrokkenes bloot aan die toepassing van die kerklike tug. Lidmate en amps-draers wat hulle nie deur besluite van die Kerk en die Kerkorde wil laat bind nie, behoort integriteit te toon en die eerbare weg te volg deur as lidmate van die Kerk te bedank.

Protes is onkerkordelik.  Hierdie benadering is baie meer Rooms as wat tot op datum aangedui is.  Die AKV is die onfeilbare pous en die Kommissie die kardinale wat met inkwisisie enige protesteerders sal tug.  Die Kommissie weet beter.  Integriteit het met beginselvastheid te make.  Harakiri is eerbare selfmoord in die Japanese kultuur.  Hoe kom die Kommissie by die punt om eerbaarheid,  integriteit en bedank in een sin te plaas?  Skokkend dat die Kommissie in die herderlike skrywe mense wegjaag.  Hoe liefdevol is dit?  Is dit werklik hoe Christen leiers optree?   Herderlik?  En dit in die voetspore van ...wie?

 

In die dokumente wat die beswaarde groep (wat hulleself nou steedsHervormers noem) voor die BAKV laat dien het, is dit duidelik dat hulle ’n Staat van Belydenis so verstaan dat die aangesprokenes tot ketters verklaar word. So ’n growwe aanklag veroordeel vanuit die hoogte en termineer gesprek. Dit dryf ’n wig in tussen lidmate van dieselfde Kerk en vervreem gelowiges van mekaar. Daarom wek hierdie Staat van Belydenis by lidmate en ampsdraers van die Hervormde Kerk verslaentheid en selfs wrewel op.

Was die wrewel nie reeds voor die tyd daar nie?  Word dit nie juis veroorsaak deur die kommissie wat met herhaaldelike misbruik van kerklike media ‘n noodroep af maak as ‘n misplaasde stottering van ‘n “klein groepie oproermakers” nie? Die viktimisasie,  vernederings en vervolging van steedsHervormers laat dit tog lyk asof daar lank reeds ‘n weersin prut wat nou oorborrel.  Die staat van Belydenis word as noodwekroep deur individue aangebied.

Dit word egter deur u, die Kommissie, as sodanig geinterpreteer as aanklag en oordeel. Reik asseblief die staat van belydenis aan elke lidmaat uit dat elkeen vir hom of haarself die saak beoordeel. Dit sou uiters protestants wees – nie  Rooms nie.  Lees tog asseblief weer die staat van belydenis.

 

5. DIE LEER EN LEWE VAN DIE HERVORMDE KERK

 

Vir die Hervormde Kerk is dit daarom ’n hartverskeurende dag om te hoor dat jy deur jou eie mense tot ketter verklaar word. Saam met die kerk van die eeue verkondig die Hervormde Kerk dat Jesus Christus die Here is. In elkeen van die meer as 300 gemeentes bely Hervormers elke Sondag hulle geloof in die drie-enige God. Ons sing saam met die kerk oor die wêreld in ons kerkliedere dat Jesus die Here is, dat Hy ware mens en ware God is, dat Hy vir ons sonde gesterf het en uit die dood opgestaan het. Ons gebruik saam Nagmaal en doop ons kinders – telkens met die belydenis op ons lippe dat ons as mense volslae sondaars is en dat ons heil net van God af kom. Ons sien toe dat nuwe lidmate eers deeglik kategeties onderrig is voordat hulle toegelaat word om belydenis van geloof af te lê – juis omdat die regte leer en belydenis vir ons Kerk so belangrik is. Ons doen groot moeite en spandeer baie geld om ons predikante deeglik op te lei om die Bybel verantwoordelik te hanteer en te interpreteer, want dit is vir ons van die allergrootste belang dat die evangelie van Jesus Christus suiwer en tog altyd nuut en vars verkondig sal word. Ons het ’n Kuratorium en ’n Proponentseksamenkommissie wat nougeset hieroor waak, en ons het ouderlinge wat self die Woord en belydenisskrifte bestudeer en wat toegerus word om toe te sien dat die verkondiging hieraan voldoen.

Die Kommissie wil dit onomwonde stel: Daar is oor die afgelope 50 jaar nie teen enige ampsdraer, dosent of predikant ’n klag van leerdwaling gelê nie. Daar was nie een gesprek onder die opsig wat oorgegaan het in ’n amptelike klag nie. Daar was geen enkele beswaar teen enige ampsdraer, predikant of dosent wat nie ondersoek en tot bevrediging opgelos is nie. Indien daar dwaling in die Kerk is, waarom het geeneen van die beswaardes ’n formele klag gelê nie? Indien daar geen klagtes oor leerdwaling in die Kerk was nie, hoe kan enige ampsdraer of die Kerk as geheel nou van leerdwaling beskuldig word? Daar is dan hoegenaamd geen bewys van dwaling wat van enige kansel af verkondig word nie.

Geen klag kan beteken:  a) Predikante sien nie kans vir die lang pad wat gevolg moet word nie.  b) Op ‘n oorwig van meerderheid, bedank predikante wanneer of voordat hul van dwaalleer aangekla word. So iets kan jare neem. c) Almal in die kerk vertrou mekaar ten onregte betreffende hul  teologie. d) Daar is inderdaad geen dwaalleer in die kerk nie. e) Dit kan selfs wees dat die kommissie dit so moeilik vir klaers maak dat hul iewers op die langpad moed verloor. f) Wat van die moontlikheid dat deur tegniese manipulasie, klaers se momentum in die sand ingelei word?  g) Wat van die moontlikheid dat dosente deur die kerk of deur hulself as onaantasbaar beskou word. (Dink maar aan ‘n sekere ds se voordrag van “verdagmaking” van dosente tydens die BAKV).

Kom ons stel dit onomwonde:  Daar is baie voorbeelde van klagtes ten opsigte van leerdwaling.  Daar is talle ampsdraers en gefrustreede lidmate wat voorbeelde geredelik beskikbaar het wat die teendeel bewys.  Die Kommissie gaan al weer selektief om met die inligting.  Wat wel waar is,  is dat nie enkele saak deurgevoer is tot op die punt van verhoor,  skuldig bevind en dan tugoptrede nie.  In sommige gevalle is die saak aanhangig gemaak,  maar het dit weens administratiewe foute skipbreuk gelei.  Meer as een keer is die klag gelê met verbygaan van broederlike gesprek weens die ernstige aard van die oortreding.  Dit is telkens terug verwys vir broederlike gesprek.  In sommige gevalle het die saak gevorder tot by broederlike gesprekke,  en dan is die saak so gemanipuleer dat dit daar gesmoor is.  In ten minste een geval het die ampsdraer bedank ‘n oomblik voor die formele verhoor sou begin.  Waar is die waarheid? 

Ons wil ook nie net saamsing (poësie) dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood nie, ons bely dit eers (onpoëties) wanneer die Geloofsbelydenis in die erediens voorgelees word. Eers daarná kan ons melodieus en poëties weggevoer word.

 

6. DIE ALGEMENE KERKVERGADERING SE BESLUITE

 

Die Kommissie van die AKV wil daarom ten sterkste ontken dat die Staat van Belydenis inderdaad die gevolg van leerdwaling in die Hervormde Kerk is. Die Kommissie is daarvan oortuig dat die Staat van Belydenis eerder voortgespruit het uit protes teen twee besluite van die Algemene Kerkvergadering.

Die NHKA het tydens die 69ste AKV (2010) ’n besluit geneem waarmee die Kerk se dekade lange teologiese begronding van die politieke beleid van apartheid teruggetrek word. Daardie besluit (Besluit 54 van die 69ste AKV) het soos volg gelui:

Die 69ste AKV maak in die lig van die 68ste AKV se besluit dat dit verkeerd was om ’n bepaalde regeringsbeleid (apartheid) goed te praat, onomwonde die uitspraak dat apartheid nie teologies geregverdig kan word nie. Die kerk verwerp sy goedkeuring van apartheid omdat dit

* in stryd is met die evangelie van Jesus Christus

* gebaseer is op die idee van onderlinge onversoenlikheid

* onreg sanksioneer

* die beeld van God in mense aantas.

Die vergadering beklemtoon die Bybels-teologiese aard van die uitspraak.

Prof BJ Engelbrecht en andere se advies was dat daar duidelik leerstellige sake in die besluit ter sprake is.  Dit is nie net ‘n verklaring nie,  dit is ‘n teologiese saak,  en indien daar leerprobleme in die besluit is,  dan het ons met ‘n vreemde leer te make.

Voor of tydens die lang en indringende bespreking van hierdie saak op die 69ste AKV het geen enkele lidmaat of ampsdraer beswaar gemaak teen die bewoording van hierdie besluit of die teologiese begronding daarvan nie. Eers na afloop van die vergadering is beswaar aangeteken dat die bewoording van die inleidende sin (in die lig van die 68ste AKV se be-sluit) tegnies nie korrek is nie. Eers na afloop van die vergadering is beswaar gemaak teen die formulering die beeld van God in mense. Indien enige van hierdie sake wesenlik van aard was – so wesenlik dat dit sou uitloop op ’n beswaarskrif en uiteindelik die Staat van Belydenis wat die Kerk van kettery beskuldig – waarom het dit geen teoloog of predikant van die Kerk reeds voor of tydens die vergadering so gesteur dat hy of sy dadelik daarteen beswaar aangeteken het nie?

Dit is nie korrek nie.  Ten minste dr JJ Steenkamp het die 69e AKV daarop gewys dat daar leerstellige probleme in die teks is.  Daarmee saam kom besware nie teen voorstelle nie,  maar teen besluite.  In die debat is vele van die sake aangespreek,  maar nie alles gehoor nie.  Om nou te kom met die verwyt dat besware teen die bewoording voor die tyd ingedien moes word,  is moedswillige misleiding.  Ons stel dit weer,  besware kom teen besluite,  nie teen inkorrekte en swak formulerings in voorstelle nie.  Daarvoor word amendamente gebruik,  en daar was amendamente voorgestel.  Die afgevaardigdes sal onthou ds E Fourie wou niks weet van amendamente nie aangesien dit die formulering was waaroor met die WCRC ooreengekom is.

Die argument verval in elk geval as die Kerkorde voorsiening maak vir besware – inherente erkenning dat vergaderings kan fouteer – dat vergaderings se besluite hersienbaar is.

 

Die protes teen die besluit het toe kerkordelik gestalte gekry in ’n beswaarskrif wat by die Kommissie van die AKV ingedien is. In lyn met die bepalings van die Kerkorde het die Kommissie advies van ’n aantal teoloë ingewin en self lank en indringend oor die beswaarskrif ge-debatteer. Die Kommissie is uiteindelik nie deur die beswaarskrif se argumente oortuig dat die bogenoemde besluit ultra vires (ongeldig) is of teologiese dwaling bevat nie. Ten spyte van vele formele en informele gesprekke wat die Kommissie hieroor met individue en groepe gevoer het, wou diegene wat teen die besluit beswaar gemaak het, nie hulle protes laat vaar nie. Om dié protes tegemoet te kom, het die Kommissie geoordeel dat die beswaarskrif aan ’n Buitengewone Algemene Kerkvergadering voorgelê moes word, sodat die groeiende onmin en verskeuring van die Kerk dáár deur gesprek en ’n ondubbelsinnige uitspraak van die AKV tot rus kon kom.  

Die voorbehoude is aan die Kommissie gekommunikeer.  Ons het gevra vir ‘n AKV met nuwe afgevaardigdes,  ons het ook gevra vir meer gebalanseerde studiestukke.  Die persone wat gevra is om  memoranda te skryf het reeds die bepaalde voorkeur aan die kant van die Kommissie aangedui.  Dit is ook aan hulle gekommunikeer.

 

Die BAKV (Oktober 2011) het slegs een saak op die agenda gehad: Die evaluering van die beswaarskrif. Daar is verskeie memorandums oor die beredenering in die beswaarskrif ontvang en in die agenda van die vergadering ingebind. Die beswaarskrif is indringend ontleed en op die vergadering gedebatteer. Uiteindelik is elkeen van die besware in die beswaarskrif met ’n groot meerderheid deur die vergadering verwerp. Die BAKV het gehoor, die BAKV het nagedink, die BAKV het gepraat, en die BAKV het die beswaarskrif verwerp.

Daarop het die BAKV ’n nuwe besluit geneem:

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika verklaar dat die politieke beleid van apartheid wat toegepas is in die Republiek van Suid-Afrika, nie teologies geregverdig kan word nie, en herroep hiermee alle goedkeurings in die verlede van die beleid in uitsprake deur die Kerk en namens die Kerk. Dit was in stryd met die evangelie van Jesus Christus.

Die Kommissie maak groot gewag van sake volgens die Kerkorde doen.  Die kerklike gebruik is dat slegs die saak op die agenda van ‘n buitengewone vergadering,  tydens die vergadering hanteer mag word.  Dit geld vir die buitengewone kerkraadsvergadering,  die buitengewone gemeentever- gadering en beslis vir die buitengewone AKV.   Die Kommissie erken:  Die BAKV (Oktober 2011) het slegs een saak op die agenda gehad: Die evaluering van die beswaarskrif.  Dramaties word dan vertel van die verwerping van die beswaarskrif. En dan word die nuwe besluit herhaal.  Waar op die agenda is die punt “nuwe besluit”?  Hoe kerkordelik korrek is die nuwe besluit?  Net so terloops,  daar is aan die hand van vrae wat versigtig opgestel is, gestem.  Daar is nooit oor die beswaarskrif per se gestem nie,  en beslis nie oor al die sake verwoord in die beswaarskrif nie.  Die teologie ten grondslag van 54/69 is nêrens gerepudieer nie. Dit spreek boekdele.

 

Met hierdie besluit het die BAKV Besluit 54 van die 69ste AKV vervang, en word verdere debat oor Besluit 54 futiel. Die Kerk het dit met die nuwe besluit van die BAKV duidelik gestel dat dit nie oor apartheid as sodanig gaan nie, maar wel oor die Kerk se teologiese regverdiging van apartheid wat herroep word. Om derhalwe verder oor Besluit 54 en die nuwe besluit van die BAKV te argumenteer, bevestig en versterk bloot die indruk dat dit vir die steedsHervormers in der waarheid om die politieke beleid van apartheid gaan, en nie regtig oor die evangelie van Jesus Christus nie.

Die Kommissie se integriteit is op die spel.  Hoe eerlik is hierdie weergawe.  Op band beskikbaar,  duidelik hoorbaar,  is die voorsitter se stem wat stel dat 54/69 staan as besluit van die Kerk.  Die besluit geneem tydens die BAKV (behalwe sy kerkordelike ongeldigheid) is nie ter vervanging van 54/69 nie.  Die twee besluite staan naas mekaar en vul mekaar aan.  Al hoe hierdie besluit 54/69 kon vervang,  sou wees indien die vergadering so besluit het,  en dit het nie gebeur nie.  Die ander moontlikheid sou wees om 54/69 te herroep,  en dit het ook nie gebeur nie.  Al wat herroep is:  en herroep hiermee alle goedkeurings in die verlede van die beleid in uitsprake deur die Kerk en namens die Kerk. Dit was in stryd met die evangelie van Jesus Christus.  Tog is dit hierdie twee besluite van die AKV wat uiteindelik daartoe aanleiding gegee dat die steedsHervormers ’n Staat van Belydenis teen die NHKA verklaar het.

Toegegee,  54/69 was die wekroep dat alles nie pluis is in die NHKA nie,  maar dit was nie die aanleidende oorsaak tot die aanvaarding van die staat van belydenis nie.

 

7. ONTLEDING VAN DIE STAAT VAN BELYDENIS

Die Kommissie het klaar die staat van belydenis verwerp,  maar gaan tog oor tot ‘n weerlegging van die staat van belydenis.  In die proses bevestig die Kommissie egter juis dat die staat van belydenis nodig is as wekroep.  Die antwoorde verwoord op plekke die kommer beter as wat die verkorte belydenis dit kon doen.

Die NHKA bely dat die mens volkome sondaar is en dat ons vir ons redding volledig van God se genade in Jesus Christus afhanklik is. Die Kommissie verwerp die aantyging dat die AKV ’n vreemde teologiese konsep as waarheid aanvaar het.

Die dokument maak ’n verkeerde, ongeldige interpretasie van Besluit 54 van die 69ste AKV – ’n interpretasie wat op grond van omvangryke studiestukke en deurtastende bespreking uitdruklik deur die BAKV verwerp is. Die dokument bring boonop ’n reeks sake in verband met die beeld van God in die mens wat daarmee hoegenaamd niks te doen het nie.

Die Woord leer ons dat die mens na die beeld van God geskep is (Gen 1: 26). Die vraag is of die sondeval die beeld van God in die mens volledig vernietig het; of daar iets van die beeld van God in die mens oorgebly het; én of die wedergeboorte die beeld van God weer in die mens herstel het.  In die Bybel is daar ten minste ses uitdrukkings wat sou kon verklaar wat die term beeld van God beteken. Ons mensbeskou-ing behoort op meer as net een uitdrukking te berus: Die Woord stel dit onomwonde

* dat die Heilige Gees in ons woon;

* dat ons ingelyf is in die liggaam van Christus;

* dat ons met Christus een geword het in sy dood en opstanding;

* dat ons opgestaan het tot ’n nuwe lewe van geregtigheid en gehoorsaamheid;

* dat die Heilige Gees ons gewillig en be-kwaam maak om God te dien en te ge-hoorsaam;

* dat die Here Jesus bid dat ons een met God sal wees soos wat die Vader, die Seun en die Gees één is.

Dit is dus teologiese haarklowery om te verskil daaroor of die beeld van God in die mens is terwyl die Woord helder en duidelik verkondig dat God self in ons woon deur sy Gees.

Daarby het Luther tydens die Kerkhervorming die Reformatoriese mensbeskouing geformuleer met die woorde simul iustus et peccator. Die mens is tegelykertyd volledig geregverdig én volledig sondaar. Die beeld van God is tegelykertyd verduister én herstel.

Daarom word die uitdrukking beeld van God in die mens inderdaad net so in die geskrifte van leiersfigure van die Reformasie gevind: Melanchton, Calvyn en Ursinus (die opsteller van die Heidelbergse Kategismus).  Die NHKA het nog nooit met enige besluit of uitspraak te kenne gegee dat die mens homself kan red nie. Die Kerk bely konsekwent dat die mens se enigste heil in Christus te vind is.

Ons stel weer:  jy kan nie regter in jou eie saak speel nie.  Die BAKV se verwerping beteken min.  Verder word daar dan weer oor hierdie saak klei getrap.  Die Kommissie sou beter gedoen het om net te volstaan met die opmerking dat die BAKV die beswaar verwerp het.  Nie een van die ses uitdrukkings byvoorbeeld “wat sou kon verklaar wat die term beeld van God beteken” is van toepassing op ‘n algemene “mensbeskouing” van swartes in wie die beeld van God deur apartheid aangetas sou kon word nie. Soos dit is,  moet ons maar weet dat hierdie weerlegging die wêreld ingaan en eintlik as klad teen die naam van die NHKA se teologiese arbeid sal bly staan.  Die Kommissie se verweer wys duidelik uit dat hier diepgaande teologiese probleme is wat aangespreek moet word.  Die Kerk het dalk nog nie gestel dat die mens homself kan red nie,  maar die implikasie van die handhawing van die woorde “beeld van God in die mens” is lank reeds aangedui.  Dit is die punt wat in die staat van belydenis gemaak word.  Besluit 54 beantwoord ‘n staat van belydenis vanuit die bevrydingsteologie. ‘n Teologie waarin die uitdrukking “beeld van God in die mens” gebesig word – en met ‘n spesifieke inhoud gevul word. ‘n Inhoud wat strydig is met die belydenis. Dit is ook baie duidelik in die besprekings aan die BAKV uitgewys.

Die mens as beelddraer van God het alles te doen met geloof in Jesus Christus. Aantasting van geloof in Christus, is aantasting van die beelddraer van God. Net ekself kan myself as beelddraer aantas.

 

Saak 2

 

Die NHKA bely voluit dat Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here, ons verlos het uit die mag van sonde en dood. Die Kommissie verwerp die aantyging dat enige besluit van die AKV neerkom op die verloëning van Jesus Christus. Die interpretasie wat die opstellers aan Besluit 54/69 heg, is verkeerd en ongeldig. Deur die eeue is die kern van die evangelie tog op verskillende maniere verwoord (bv Joh 3: 16 of vraag en antwoord 1 van die Heidelbergse Kategismus). Maar om dieselfde evangelie ook anders te verwoord, beteken tog nie ’n verloëning daarvan nie. Die deernis wat God met mense het, kom juis in die kruisdood en opstanding van Jesus Christus na vore. Hierdie deernis van God teenoor verlore mense wat geen aanspraak kan maak op sy genade nie, roep ons juis om daadwerklik deernis te hê met ons medemense. Die twee sake staan nie teenoor mekaar nie, maar Jesus se oproep aan ons om ons medemens met woord en daad lief te hê, is die onontkombare uit-vloeisel van sy samevatting van die wet as oproep om God met ons hele wese lief te hê én ons naaste soos onsself (Luk 10: 25-37).

Die bewering dat die NHKA se besluite oor apartheid die evangelie van Jesus Christus as opgestane Here verloën, maak geen logiese sin nie. Die herroeping van die Kerk se teologiese regverdiging van apartheid, wat die Kerk self al die jare as ’n "praktiese aangeleentheid" verstaan het, kan tog op geen wyse die evangelie van Jesus Christus verloën nie.

Inteendeel, met hierdie besluite wou die NHKA die evangelie van Jesus Christus as lewende Here sentraal stel sonder dienstigheid aan enige politieke party, politieke sisteem, volksbelange of ideologie.

Die Kommissie word verwys na die motivering van 54/69.  Daar word gestel:  Ons ken geen ander evangelie nie as die evangelie van God se liefde in Christus wat van ons eis om met ander deernis te hê soos God met ons deernis het.  Daarom kan ons die apartheidsisteem in kerk en samelewing nie anders as inherent mensonterend sien nie.  Hoe is dit net nog ‘n manier van die evangelie verstaan?  Die woord geen sluit ander moontlikhede uit.  Wat verstaan die Kommissie nie?  Die kerk se amptelike blad verskraal die leer aangaande die Kerk daartoe dat die Kerk net moet dien.  Die Kerk se nuwe embleem is voete was,  die leuse In Christus se voetspore.  Terloops, in 1 Petrus 2:21 se “in die voetspore” gaan dit om self te “ly” ter wille van die evangelie.

Waar is die wekroep tot verkondiging?  Vanwaar die enkele gerigtheid tot missionale kerkwees?  In die evangelie gaan dit in die eerste plek om die vergifnis van sonde, daarna kom die reël van ‘n dankbare lewe wat naas liefde vir God, liefde vir die naaste inhou. Die Kommissie wil dit nie erken nie.

 

Saak 3

Die Hervormde Kerk verkondig en roep haar lidmate voortdurend op om vry-uit te getuig dat Jesus Christus leef en weer kom om te oordeel oor dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Die Kommissie verwerp daarom die aantyging dat die NHKA verword tot ’n organisasie van diensbaarheid wat gemik is op sosiale verandering en nie meer op evangelieverkondiging nie.

Hierdie beskuldiging teen die NHKA is derhalwe vals, kwaadwillig, lasterlik en meerderwaardig. Dit ignoreer moedswillig die manier waarop die evangelie Sondag vir Sondag op die kansels van Hervormde gemeentes verkondig word. Dit verswyg opsetlik dat die lidmate van die NHKA elke Sondag saam met die kerk van alle eeue en oor die wêreld heen hulle geloof bely. Dit skep nogmaals ’n valse teenstelling tussen ons geloof in die drie-enige God en ons dankbare reaksie op die verlossing wat God in Jesus Christus moontlik gemaak het.

In sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament is God se eis vir sosiale geregtigheid ’n deurlopende en prominente tema. Die Hervormde Kerk is daarom juis trou aan die Woord as sy haar lidmate oproep om die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God ons Vader teenoor alle mense in ons gemeenskap te betuig, en ook deur in hulle daaglikse handel en wandel toe te sien dat reg aan alle mense geskied.

Die stelling vertoon ook ’n gebrek aan kennis van die Reformatoriese geskiedenis, veral aangesien iemand soos Calvyn soveel aandag gegee het aan die saak van geregtigheid. Trouens, in sy eerste publikasie (De Clementia) spreek hy die owerhede aan en eis hy dat hulle met geregtigheid, sagmoe-digheid en menslikheid teenoor alle onderdane moet optree.

Die Kommissie wys net die ander kant van die munt en bewys niks nie.  Dit is waar dat daar steeds gemeentes is waar die evangelie suiwer verkondig word.  Daar is egter gemeentes waar die teendeel waar is.  Dit is veral in die amptelike stukke van die kerk dat hierdie vervlakking sigbaar is.  Dit is waarom die AKV opgeroep word om die saak reg te stel,  en nie elke predikant en gemeente nie.  Die kommissie se reaksie herinner aan die bemarkingspraktyke.  In  hierdie geval om die skare deur wanvoorstelling aan jou kant te kry. 

 

Saak 4

Die Hervormde Kerk glo in die drie-enige God wat Hom en alles wat vir ons saligheid nodig is, duidelik en voldoende deur sy Woord, die Bybel, bekendmaak. Die Kom-missie verwerp die aantyging dat die AKV ’n teologie aanhang wat nie erns maak met die Bybel as die Woord van God nie.

Die stelling hiernaas is ’n growwe oorvereenvoudiging van die Bybelse getuienis, terwyl die Heidelbergse Kategismus in Sondag 41 geen enkele woord rep oor homoseksuele verhoudings nie (ook nie in enige van die teksverwysings nie). Daardeur toon die opstellers van hierdie Staat van Belydenis juis dat hulle nie erns maak met die Bybel as Woord van God nie, maar dat hulle ingewikkelde vraagstukke met vooropgestelde antwoorde benader.

Die Hervormde Kerk roep al haar lidmate op om erns te maak met die volle getuienis van die Skrif, en om nie hulle eie interpretasie tot die enigste moontlike interpretasie te verhef nie. Vergaderings van die ampte kom juis byeen sodat die gemeenskap van gelowiges onder leiding van die Heilige Gees en met deeglike inagneming van omvangryke studies eietyds ons beste insig in die Skrif kan verwoord. Die NHKA is tans in ’n proses van besinning oor die huwelik in die huidige tydsgewrig. Maar nog nooit het die NHKA (of teoloë van die NHKA) te kenne gegee dat die huwelik as instelling ondermyn moet word nie. Studies in die NHKA oor homoseksualiteit het ook geen sodanige voorneme nie. Bewerings tot die teendeel is vals en/of op oningeligtheid gebaseer, of reflekteer ’n onvermoë om die studies se bedoeling te verstaan.

Die jongste besluit van die (68ste) Algemene Kerkvergadering (2007) oor die huwelik en homoseksualiteit is op die Kerk se webblad beskikbaar by

http://www.nhka.org/images/stories/Kerklike_dokumente/Besluitebundel/Hoofstuk_2_- Verkondiging_en_Apostolaat.pdf .

Die selektiewe gebruik van inligting val op.  Die tradisionele hantering van die sewende gebod het sake soos homoseksualiteit ingesluit.  Daarmee saam gaan dit in die Heidelbergse Kategismus oor die verhouding tussen een man en een vrou met uitsluiting van alle ander verhoudingsmoontlikhede.  Daarmee saam is daar deur die Bybel heen net een verhouding wat goedgepraat kan word.  Daar is ook verskeie verse in die Bybel wat handel oor homoseksualiteit.  Hierdie verse word weggepraat en dan word ons van oorvereenvoudiging aangekla.  Kan die Kommissie eerlik op die volgende vrae antwoord:  Is die Kommissie bewus van die studiewerk oor die huwelik gedoen deur proff van Eck,  Dreyer,  Buitendag en ds van Wyk?  Studiestukke in onder andere HTS waarin aan die een kant die huwelik verdag gemaak word,  en aan die ander kant homoseksualiteit as aanvaarbaar volgens die Bybel voorgehou word?  Is die Kommissie bewus daarvan dat van hierdie studiewerk tydens VTT aan predikante voorgehou is?  Is die Kommissie bewus daarvan dat prof Yolanda Dreyer in die openbare media negatief oor amper alle verhoudings is maar die homoseksuele verhouding aanprys.  Is die Kommissie bewus daarvan dat prof van Aarde besig is om ‘n beskrywingspunt voor te berei vir die 70e AKV,  ‘n beskrywingspunt wat deur die Kuratorium gesteun word en wat homoseksuele verhoudings as aanvaarbaar gaan voorstel?    Wie is oningelig?

 

Saak 5

Al die ampsdraers en predikante van die Hervormde Kerk onderskryf die Kerk se belydenisskrifte omdat hulle daarvan oortuig is dat dit in ooreenstemming is met die Woord van God. Dit het al die predikante pas weer betuig toe hulle die geleentheid gebied is om aan te dui indien hulle daarvan verskil of indien hulle van hulle ondertekening van die Proponentsformule wou distansieer. Die Kerk se dosente het baie onlangs ook elk-een weer hulle instemming met die belyde-nisskrifte van die Kerk skriftelik en openbaar bevestig.   Die voorgaande stelling openbaar in dié verband ’n ernstige gebrek aan insig in die hermeneutiek: elke mens interpreteer elke keer as hy/sy enige teks lees. Dit is gans en al onmoontlik om enige teks te lees sonder om te interpreteer. Trouens, die Staat van Belydenis self getuig paragraaf vir paragraaf daarvan dat die opstellers daarvan deurentyd besig is om tekste (die Bybel, die belydenisskrifte, en die besluite van kerklike vergaderings) te interpreteer. Die vraag is dus nie óf enigiemand ’n teks interpreteer nie; die vraag is of iemand se interpretasie aan die teks en konteks laat reg geskied.

Wanneer studente opgelei word om predikante te word, word hulle geleer om die Bybel verantwoordelik te interpreteer. Mag (of kan) mense dus die Bybel interpreteer, maar nie die belydenisskrifte nie? Word die belydenisskrifte daarmee ’n klein Bybeltjie binne die Bybel wat belangriker is as die Bybel en nie geïnterpreteer mag word nie? Die Kommissie verwerp hierdie dwaling as Rooms en teen die ganse Reformatoriese tradisie.

Wanneer die Kerk die belydenisskrifte interpreteer, beteken dit in elk geval nie dat die Kerk sê dat die belydenisskrifte nie in ooreenstemming is met die Woord van God nie. Interpretasie van die belydenisskrifte ontken op geen manier die waarheid wat daarin vervat is nie; inteendeel, die interpretasie maak die belydenisskrifte juis relevant vir vandag.

Die Kommissie bevestig dat die Kommissie self die quatenus standpunt verteenwoordig deur te verwys na die Bybeltjie binne die Bybel.  Hoe die quia standpunt Rooms is,  gaan alle begrip te bowe.  Die vraag is;  Wie verstaan nie hoe werk hermeneutiek nie?  Die kwetsende opmerking lei die aandag af.  Ter sprake is die benadering tot die belydenisskrifte,  nie die interpretasie al dan nie van die tekste nie.  Indien die quia standpunt gehandhaaf word,  verskaf die belydenisskrifte die breë bane waarbinne die Bybel gelees kan word.  Het die Kommissie vergeet dat prof Pelser gestel het hy aanvaar nie meer alles wat binne die belydenisskrifte staan nie.  Wat het van sy opmerking geword?  Predikante onderteken die proponentsformule,  maar bely hulle steeds almal dat hulle glo die saak moet quia verstaan word?

Die Reformatoriese vaders was daarvan oortuig dat eksegese net binne die gemeenskap van die heiliges kan plaasvind. Om hierdie rede luister eksegete altyd na die leer van die vadere.

 

Saak 6

Die Hervormde Kerk bely soos en saam met die kerk van alle eeue die Godheid en mensheid van Christus (die twee nature van Christus), sy maagdelike geboorte, sy plaas-vervangende en versoenende dood aan die kruis, sy liggaamlike opstanding en sy he-melvaart. Die Kerk en al haar ampsdraers bely elke Sondag in die erediens weer eens dat Jesus Christus uit ’n maagd gebore is, aan die kruis gesterf het, uit die dood opge-staan en na die hemel opgevaar het.

Tog openbaar die Staat van Belydenis hier weer ’n gebrek aan teologiese kennis! Die sogenaamde Q-bron word binne-in die Bybel gevind, en gerekonstrueer op grond van die woordelikse ooreenstemming van die Evangelies van Matteus en Lukas daar waar hulle nie van Markus afhanklik is nie. Net so word sommige gelykenisse sowel in die kanonieke Evangelies as in die apokriewe Thomas-evangelie aangetref. Op talle plekke haal die Ou en Nuwe Testamente self bronne van buite die Bybel aan, sodat enige verantwoordelike teologiebeoefening noodwendig moet ondersoek instel na die verband tussen die betrokke geskrifte. Dit beteken egter geensins dat die gesag van die Bybel nie aanvaar word nie, of dat daar aan ander bronne dieselfde gesag toegeken word as aan die Bybel self nie.

Die stellings openbaar eweneens ’n selektie-we verswyging van die belydenisskrifte. So stel die Nederlandse Geloofsbelydenis tog in Artikel 6: Die kerk mag hierdie [apokriewe] boeke wel lees en daar lering uit trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreen-stem.

Kerklike vergaderings funksioneer bowendien nie as ’n soort Rooms-Katolieke Konsilie wat die akademiese navorsingsresultate van teoloë deurlopend goedkeur en aanvaar nie, en die aantyging dat die Hervormde Kerk ’n godslasterlike leer akkommodeer en selfs beloon, is vals, kwaadwillig, lasterlik.

Dit is met geskokte verbasing dat ons moet lees:  Tog openbaar die Staat van Belydenis hier weer ’n gebrek aan teologiese kennis!  ..... Q-bron word binne-in die Bybel gevind.  Is die Kommissie ernstig?  Hierdie dokument word die wêreld ingestuur.  Dit is tot ons eie verleentheid wat hier met stelligheid sodanige opmerkings gemaak word.  Daar is navorsing wat Q se bestaan verwerp,  selfs as teoretiese bron.  Eta Linneman voer oortuigend aan dat daar nie genoegsame bewyse is vir die aanname dat Q ooit bestaan het nie  Wie se teologiese kennis is gebou op die tasbare Bybel en wie se kennis is ‘n lugkasteel?  Daarmee saam kom die vraag na die Thomas evangelie.  Is dit werklik ‘n apokriewe geskrif?  Op watter stadium het dit daardie status gekry?  Die Thomas evangelie het in alle waarskynlikheid op die vroegste 140 nC ontstaan.  Wat maak hom vandag so relevant?  Die feit dat hy Gnostiese tendense toon,  tussen ander Gnostiese dokumente gevind is?  Terloops,  die selektiewe gebruik van inligting duur voort.  NGB artikel 6 lys ook die apokriewe boeke.  Q en Thomas haal nie daardie lys nie.  Tog haal die Kommissie ter regverdiging van die gebruik van Q en Thomas, die NGB aan.  Die NHKA werk nie soos ‘n konsilie nie,  maar die fakulteit se navorsingsresultate word gebruik in studiestukke wat in die Kerk versprei word,  die studente word opgelei en al hierdie dinge “wys” gemaak en juis daarom is dit relevant dat saak 6 van die staat van belydenis hierdie saak as kernbelangrik aandui.  Die Kommissie se reaksie bevestig die omvang van die probleem.

 

NGB Artikel 6

ONDERSKEID TUSSEN DIE KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE

Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester,  die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die Makkabeërs.

Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.  Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.

Antieke gnostiek is reeds beveg deur kerkvaders soos Irenaeus, Hippolytus, Tertullianus, en Origenes.  Ons verstaan van die gnostiese dwaling het uitgebrei met die ontdekking van die tekste by Nag Hammadi.  Die groot gevaar van gnostiek is dat die inkarnasie van Jesus verwerp word,  wat beteken dat daar geen verlossing uit die sondes is nie.

 

Saak 7

Met hierdie beskuldiging verhef die ondertekenaars van hierdie verklaring nogmaals ’n middelmatige saak tot uitsluitlike toetssteen vir die waarheid. Nadat die BAKV aan die hand van geskrewe memorandums en mondelinge voorleggings die argumente teen die inleidende sin tot Besluit 54/69 oorweeg het, het die vergadering met ’n tweederde meerderheid besluit dat die besluit nie daardeur ongeldig gemaak is nie. Die nuwe besluit waarmee die BAKV Besluit 54 vervang het, en die Kerk se teologiese regverdiging van apartheid herroep het, word boonop glad nie deur die voorgaande geraak nie.

’n Beroep op die waarheid sny na alle kante toe. Die Kommissie oordeel dat die talle valse stellings oor die Hervormde Kerk in die Staat van Belydenis neerkom op growwe oortredings van die negende gebod.

Dit is boonop aanmatigend van enige druk-groep om van die Algemene Kerkvergadering te eis dat hulle enige besluit onvoorwaardelik moet herroep. Hierdie onkerkordelik georganiseerde minderheidsgroep wat beweer dat hulle geen toegewing aan die (georganiseerde) meerderheid kan maak nie, verset hulle teen die besluite van die Algemene Kerkvergadering en Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afri-ka, en tree soos ’n sektariese afskeidingsbeweging op deur voor te gee dat hulle alleen reg en vir God aanvaarbaar is terwyl die groter Kerk totaal boos is.

Is hierdie opmerking liefdevol, herderlik bedoel?  Dit lyk eerder weer net na selfhandhawing ten alle koste.  Die middelmatige saak waarna verwys word is die feitefout.  Daar is nie kleinjok en grootlieg nie,  die negende gebod vereis die waarheid.  Dit maak nie saak of die stelling niks verander aan die inhoud en die besluit wat geneem is nie.  Reg is reg,  en soos dit daar staan is dit nie reg nie.  ‘n Twee derde meerderheid ten gunste van die leuen maak dit nie skielik die waarheid nie,  maar bewys juis weereens dat jy nie regter in jou eie saak kan speel nie.  Die Kommissie se hantering van saak 7 bewys weer dat ons geen ander keuse het as om ‘n staat van belydenis uit te roep nie.  Meer as een saak wat aangespreek moet word beteken dat ons eerder moet praat van state van belydenis. Die lasterlike toesnou van woorde soos sektariese afskeidingsbeweging bewys dat die Kommissie sekere dele van die kudde tot bokke verklaar het en hulle nou wil wegjaag.  In al die optredes was daar nie sprake van wegskeur nie,  wel afsonder en eenkant wees,  modaliteit vorm ensomeer.  Die Kommissie jaag mense weg omdat hulle protesteer.

 

 

8. TÉÉNOOR DIE KERK

 

Dit is die Kommissie se standpunt dat dit nie moontlik is vir ’n groep binne die Hervormde Kerk, daarin ondersteun deur andere van buite die Kerk, om ’n Staat van Belydenis te verklaar teenoor ander gelowiges binne dieselfde Kerk, en dan steeds lidmate van daardie selfde Kerk te bly nie.

Ons verskil respekvol van die Kommissie.  Ons glo dat ons die roeping het om die wekroep tot gewete te wees. Maar u verkies om ons weg te jaag.

Dit is moreel onhoudbaar om te stel dat die Hervormde Kerk dwaal en steeds binne hierdie Kerk te bly. Dit is onhoudbaar om die Kerkorde, die besluite van die Kerk en die gesag van die Kerk se bykomende vergaderings te verwerp, maar steeds op hierdie Kerk se vergaderings van die ampte te wil sitting neem. Dit is onmoontlik om jou medelidmate en mede-ampsdraers van kettery te beskuldig en steeds saam met hulle te aanbid en aan die Nagmaaltafel aan te sit. Dit is immoreel om op ’n Hervormde kansel te bly preek en in ’n Hervormde pastorie aan te bly indien ’n predikant juis hierdie Kerk, kragtens wie hy/sy predikant is, van kettery beskuldig. Dit is oneties om deur ’n Hervormde gemeente vergoed te word en deel te bly van die Hervormde Kerk se pensioenfonds, maar die weerhouding van sinodale offergawes (heffings) of oordrag van gemeentelike eiendomme aan nuutgestigte "Christelike verenigings" te propageer.

Dit is immoreel om ‘n oordeel te fel wat enige protes verketter.  Wat van al die mense wat deur die jare vir lank oor soveel sake van die Kerk se leer verskil het en nog verskil, maar ook al bogenoemde voorregte, en selfs meer, geniet wat die kerk sy ampsdraers bied?  Hierdie paragraaf is ‘n dolk in die hart van die evangelie.

Elkeen wat die Staat van Belydenis teken, stel hom-/haarself téénoor die Hervormde Kerk. Boonop is daar van dié lidmate wat verklaar dat hulle nie meer deel van die Kerk wil wees nie, en ook nie daaroor gesprek wil voer nie. Hoewel dit ’n uiters pynlike ervaring is om uiteindelik te besef dat ons rondom hierdie saak nou by dáárdie punt is, is daar vir sulke lidmate slegs een eerbare weg: Bedank as lidmate en ampsdraers van die Hervormde Kerk.

Waarom bedank die onverdraagsame Kommissie nie eerder nie?

Ons is duidelik nie meer een van hart en een van oortuiging nie. Eerder as dat ons mekaar vernietig, die kerk van Christus verder skaad en die eer van God in die gedrang bring, kom ons gaan tog in vrede uitmekaar. So was dit met die afskeiding van die Gereformeerde Ker-ke in 1859 toe di Dirk van der Hoff en Dirk Postma mekaar die hand kon gee en elke groep sy eie kerklike koers kon gaan. Ons pleit by diegene wat nóú stel dat die Hervormde Kerk dwaal: Laat ons dit dan nou weer so doen.

Verdere verdagmakery, beskuldigings en hofsake lei net tot groter skade en hartseer vir die Kerk, vir gemeentes, families en selfs gesinne. Mag die genadige beskikking van God ons daarvan bewaar!

Eers word ons verdag gemaak,  belaster en verneder en dan word ons ‘n handdruk gegee?  Die Kommissie is meer onverdraagsaam as menige pous.

 

9. SAAM MET DIE KERK

 

Die Kommissie is daarvan oortuig dat daar lidmate is wat die Staat van Belydenis onderteken het sonder dat hulle die volle implikasies daarvan deurdink het. Die Kommissie het ook verneem dat daar wel lidmate is wat die Staat van Belydenis onderteken het maar steeds bereid is om daaroor gesprek te voer. Die eenheid van die Kerk is vir die Kommissie van die uiterste belang, en daarom verklaar die Kommissie hulself opnuut bereid tot gesprek mits daardie lidmate hulle steun aan die Staat van Belydenis terugtrek en die Kerkorde gehoorsaam.

Onvoorwaardelike oorgawe sal beloon word.  Wees billik,  sien sake soos ons dit sien.  Dit is die implikasie van die woord “mits”.  Sinonieme vir mits is woorde soos “indien,  as,  slegs wanneer”.

Die Kommissie roep al die lidmate van die NHKA op om opnuut erns te maak met die Woord van God en ons kerklike belydenis. Die Kommissie versoek lidmate om hulle nie op sleeptou te laat neem deur groeperings in die Kerk wat skeuring en verdeeldheid aanblaas nie. Die Hervormde Kerk is nie ’n dwaalkerk nie. Ons is kerk van Jesus Christus. Niks meer nie en niks minder nie. Mag Hy ons deur die troebel van die hede veilig bewaar.

          Die staat van belydenis wil die Kerk laat hoor dat hierdie stelling nie onomwonde gemaak kan word nie.  Die gevaarligte flikker,  word wakker!

        Maleagi 2:7 ‘n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat my wil is, want hy is ‘n boodskapper van die Here die Almagtige.