Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
Matteus 5:1-3
Die ou 1933/53 vertaling vertaal die teksvers letterlik as : “salig is die armes van gees”. Die 1983 vertaling het die gees van die gedeelte reg vertaal, dit gaan hier oor arm en afhanklik voor God en nie oor jou geld of verstandelike vermoë nie.
Die Jode se verwagting van ‘n aardse koninkryk van God was totaal verwyderd van Jesus se proklamering van die koninkryk van die Hemel in die Bergpredikasie. Teenoor hul verwagting van ‘n aardse koninkryk waar burgerskap op grond van hul afkoms van Abraham verkry word is die koninkryk van die hemel vir hulle vreemd. Die koninkryk van die hemel is nie in die hemel nie, maar waar God liefdesheerskapy voer in die harte van die uitverkorenes, wat deur die heilswerk van Jesus Christus en deur die wedergeboorte van die Heilige Gees, burgers van God se ryk van genade geword het.
Redding kom nie deur die navolging van die wet nie, ook nie deur ons verhoudings met ander mense, of deur dat ons ‘n verskil in die wêreld maak deur ons diensbaarheid nie. Dit is alles deel van ‘n lewe van dankbaarheid.
Om te besef dat ons met leë hande voor God staan en dat niks wat ons doen enigsins iets aan ons saligheid kan verander nie is vir ons as mense baie ontstellend. Ons wil van nature so graag in ons self roem. As ons egter besef hoe totaal afhanklik ons van God en sy genade in Jesus Christus is verander daar ook iets in ons lewe.
Dan kry die evangelie van Jesus Christus vir ons baie dieper en groter betekenis as bloot die navolging van sy aardse optrede en voetspore om ons verhouding met mekaar en die wêreld te verbeter. Dan onderwerp ons ons eie wil en ons eie sondige menslike begeertes en gedagtes deur die leiding van die Heilige Gees aan God se wil. Verander ons nie die Woord van God na ons lewe nie, maar verander ons ons lewe na God se Woord deur die leiding van die Heilige Gees.