Onderhandeling in die kerk

  1. Polariteite versus digotomie

Digotomie is ‘n verdeling waarin die veld nie as ‘n eenheid gesien word nie, maar eerder as mededingende magte wat nie verband met mekaar het nie. Hierdie denke is onverdraagsaam teenoor diversiteit onder mense asook teenoor paradoksale waarhede oor ‘n persoon. In werklikheid is die veld verdeel in polariteite wat mekaar aanvul en nodig is om saam ‘n geheel te vorm.
 
Verskille word aanvaar en geïntegreer deur dialoog. Gebrek aan werklike integrasie skep verdeling soos liggaam – gees, interne – eksterne, onvolwasse – volwasse, biologies – kultureel, bewus – onbewus. Digotomie soos die ideale self en die behoeftige self, gedagte en impuls, sosiale vereiste en persoonlike behoefte kan geheel word deur integrasie in ‘n geheel, wat gedifferensieerd is in natuurlike polariteite.
 
Die polariteite in die persoonlikheid is die dele van die self wat aan die individu bekend is en die dele wat vir hom onbekend is. Elke deel het sy eie emosies. Indien `n individu sy onbekende dele leer ken, sal hy ook die emosies ken wat met daardie deel saamhang. As `n sekere emosie dan na vore kom, kan hy besluit of hy vanuit daardie deel van sy persoonlikheid wil optree of nie. Elke kontak kan dan benut word vir die ontwikkeling van `n bewuste, gesonde, multi sensoriese persoonlikheid.
 
Die proses bring `n gesonde selfkonsep na vore.