Onderhandeling in die kerk

  1. Wie se belewenis is die waarheid?

Vir baie eeue was die empiriese wetenskapsbeskouing gebou op die aanname dat net dit wat deur die vyf sintuie waargeneem kan word, binne die wetenskapsbeoefening ‘n plek het. Hierdie vyf sintuie is deur Aristoteles (384-322 v. C.) vasgestel as om te sien, te hoor, te ruik, te proe en te voel (Barnes 2004:45-46). Die vraag word nou gevra: Is dit werklik al waarnemingsvermoë wat die mens besit?
 
Wat waarneming so belangrik maak, is die feit dat dit ‘n invloed het op die mens se hele lewe. Hoe wyer die waarneming van ‘n mens is, hoe groter is die area waarvan die mens bewus is. Hoe groter die bewussyn is, hoe groter is die spektrum van keuses wat gemaak kan word op grond van die bewuste waarneming. Keuses wat uitgeoefen word, berus op waarneming. Deur die keu¬ses wat gemaak word, word ervaring geskep. As sekere waarnemingsvermoëns wat wel teenwoordig is, nie vertrou of beoefen word nie, word keuses vereng en daarom ook ervaring. Geloof is nie `n vyf sensoriese waarneming nie maar `n multi sensoriese waarneming. (Hebreërs 11)